Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 3:9-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Die uitdrukking van hulle gesig getuig teen hulle, en hul sonde maak hulle bekend, soos Sodom, sonder om iets weg te steek. Wee oor hulle siel, want hulle doen hulself kwaad aan!

10. Sê van die regverdige dat dit met hom goed sal gaan; want die vrug van hul handelinge sal hulle eet.

11. Wee die goddelose! Met hom gaan dit sleg; want wat sy hande gewerk het, sal hom aangedoen word.

12. Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle. o My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ’n dwaalweg gemaak.

13. Die Here staan daar om ’n regstryd te voer: Hy tree op om die volke te vonnis.

14. Die Here gaan na die gereg met die oudstes en die vorste van sy volk. Ja, júlle het die wingerd afgewei; wat aan die arm man ontroof is, is in julle huise.

15. Wat is dit met julle dat julle my volk vertrap en die ellendiges mishandel? spreek die Here Here van die leërskare.

16. Verder het die Here gesê: Omdat die dogters van Sion trots is en loop met uitgerekte nek en met die oë lok, wegstap met trippelgang en hulle voetringe laat rinkel,

17. daarom sal die Here die skedel van die dogters van Sion skurf maak, en die Here sal hulle skaamte ontbloot.

18. In dié dag sal die Here wegneem die sieraad van die voetringe en die sonnetjies en die maantjies;

19. die oorversiersels en die armbande en die sluiers;

20. die hoofversiersels en die voetkettinkies en die pronkgordels en die reukflessies en die towermiddels;

21. die vingerringe en die neusringe;

Lees volledige hoofstuk Jesaja 3