Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 24:4-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Die aarde treur, dit verwelk; die wêreld versmag, dit verwelk; en die hoogstes van die mense van die aarde versmag.

5. Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek.

6. Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ’n gloed verteer en bly daar min mense oor.

7. Die mos treur, die wingerdstok verwelk, almal wat bly van hart is, sug.

8. Weg is die vreugde van die tamboeryne, die gedruis van die uitgelate mense hou op, weg is die vreugde van die siter!

9. Hulle drink geen wyn onder gesang nie; die sterk drank smaak bitter vir die wat dit drink.

10. Verbreek is die verlate vesting; al die huise staan toegesluit, sodat niemand daar kan inkom nie.

11. Daar is ’n gejammer oor wyn op die strate; al die vrolikheid het ondergegaan, die vreugde van die aarde is verban.

12. Wat in die stad oorgebly het, is verwoesting; en die poort is tot ’n puinhoop stukkend geslaan.

13. Want so sal dit wees op die aarde, onder die volke, soos by die afslaan van die olywe, soos by die na-oes as die druiwe-oes verby is.

14. Hulle daar hef hul stem op, hulle jubel; vanweë die majesteit van die Here juig hulle van die see af:

15. Daarom, eer die Here in die lande van die son, op die kuslande van die see die Naam van die Here, die God van Israel!

16. Van die einde van die aarde af hoor ons lofgesange: Glorie aan die regverdige! Maar ek sê: Ek teer weg, ek teer weg, wee my! Die ontroues handel troueloos, en in troueloosheid handel die ontroues troueloos.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 24