Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 24:10-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Verbreek is die verlate vesting; al die huise staan toegesluit, sodat niemand daar kan inkom nie.

11. Daar is ’n gejammer oor wyn op die strate; al die vrolikheid het ondergegaan, die vreugde van die aarde is verban.

12. Wat in die stad oorgebly het, is verwoesting; en die poort is tot ’n puinhoop stukkend geslaan.

13. Want so sal dit wees op die aarde, onder die volke, soos by die afslaan van die olywe, soos by die na-oes as die druiwe-oes verby is.

14. Hulle daar hef hul stem op, hulle jubel; vanweë die majesteit van die Here juig hulle van die see af:

15. Daarom, eer die Here in die lande van die son, op die kuslande van die see die Naam van die Here, die God van Israel!

16. Van die einde van die aarde af hoor ons lofgesange: Glorie aan die regverdige! Maar ek sê: Ek teer weg, ek teer weg, wee my! Die ontroues handel troueloos, en in troueloosheid handel die ontroues troueloos.

17. Die skrik en die kuil en die strik oor jou, o bewoner van die aarde!

18. En hy wat vlug vir die skrikgeroep, val in die kuil; en hy wat uit die kuil uitklim, word in die strik gevang. Want die sluise uit die hoogte het oopgegaan, en die fondamente van die aarde bewe.

19. Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan wankel, die aarde word geheel en al geskud.

20. Die aarde waggel geheel en al soos ’n dronkaard en swaai heen en weer soos ’n naghut; en sy oortreding is swaar op hom; en hy sal val en nie weer opstaan nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 24