Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 22:12-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. En in dié dag roep die Here, die Here van die leërskare, tot geween en tot rouklag en tot kaalskering en tot omgording van die roukleed;

13. maar kyk, daar is vreugde en vrolikheid, beeste word doodgemaak en skape geslag, vleis geëet en wyn gedrink, met die woorde: Laat ons eet en drink, want môre sterf ons.

14. Maar die Here van die leërskare het Hom in my ore geopenbaar en gesê: Waarlik, hierdie ongeregtigheid word vir julle nie versoen totdat julle sterwe nie! sê die Here, die Here van die leërskare.

15. SO sê die Here, die Here van die leërskare: Kom, gaan in by daardie bestuurder, by Sebna, wat oor die paleis aangestel is, en sê:

16. Wat het jy hier, en wie het jy hier, dat jy vir jou hier ’n graf uitgekap het soos een wat in die hoogte sy graf uitkap, wat in die rots vir hom ’n woning uithol?

17. Kyk, die Here sal jou wegslinger, soos ’n man iets wegslinger, en jou vas inmekaar rol,

18. jou vas inmekaar draai soos ’n tol garing, jou soos ’n bal wegslinger na ’n land wat alkante toe wyd is; daar sal jy sterwe, en daar sal jou pronkwaens wees, o skandvlek van die huis van jou heer!

19. En Ek sal jou wegstoot uit jou pos, en uit jou plek sal Hy jou wegruk.

20. En in dié dag sal Ek my kneg Éljakim, die seun van Hilkía, roep;

21. en Ek sal hom jou gewaad aantrek en hom gord met jou gordel, en jou mag sal Ek in sy hand lê, en hy sal vir die inwoners van Jerusalem en vir die huis van Juda ’n vader wees.

22. En Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê; en hy sal oopmaak, en niemand sal sluit nie; en hy sal sluit, en niemand sal oopmaak nie.

23. En Ek sal hom inslaan soos ’n pen in ’n vaste plek, en hy sal ’n eretroon wees vir die huis van sy vader.

24. En hulle sal aan hom ophang die hele swaarte van die huis van sy vader, die spruite en die wilde lote, al die klein huisraad, van komme af tot allerhande kruike toe.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 22