Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 22:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. GODSPRAAK oor die dal van die gesig. Wat is dit dan met jou dat jy, jou hele bevolking, op die dakke geklim het,

2. rumoerige, woelige stad, uitgelate vesting? Die wat in jou verslaan is, is nie deur die swaard verslaan en het nie in die oorlog gesterwe nie.

3. Al jou owerstes het almal saam gevlug, sonder boog is hulle gebind; almal wat in jou gegryp is, is almal saam gebind; hulle het ver weggevlug.

4. Daarom sê ek: Kyk weg van my af, dat ek bitterlik kan ween; dring nie aan om my te troos oor die verwoesting van die dogter van my volk nie;

5. want dit is ’n dag van rumoer en vertrapping en verwarring deur die Here, die Here van die leërskare, in die dal van die gesig — omgooi van mure en geskreeu na die gebergte toe!

6. En Elam het die pylkoker geneem, met waens, manskappe, ruiters; en Kir het die skild ontbloot.

7. Dan word jou beste dale met strydwaens gevul, en die ruiters staan gereed in die rigting van die poort;

8. en die beskutting van Juda word weggeneem. En in dié dag kyk jy na die wapens in die Huis van die Bos,

9. en julle sien die skeure van die stad van Dawid, dat hulle baie is, en julle vang die waters van die Onderste Dam op.

10. En julle tel die huise van Jerusalem, en die huise breek julle af om die muur te versterk.

11. En julle maak ’n dam tussen die twee mure vir die water van die Ou Dam; maar julle kyk nie na Hom wat dit gedoen het nie, en Hom wat dit lankal beskik het, sien julle nie.

12. En in dié dag roep die Here, die Here van die leërskare, tot geween en tot rouklag en tot kaalskering en tot omgording van die roukleed;

13. maar kyk, daar is vreugde en vrolikheid, beeste word doodgemaak en skape geslag, vleis geëet en wyn gedrink, met die woorde: Laat ons eet en drink, want môre sterf ons.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 22