Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 19:5-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. En die waters sal uit die groot waterplas verdwyn, en die rivier sal uitdroog en droog lê.

6. En die strome sal stink; die strome van Egipte sal swak word en uitdroog; riet en biesies sal verwelk.

7. Die weivelde by die Nyl, by die mond van die Nyl, en elke saailand van die Nyl sal verdor, verwaai en nie meer wees nie.

8. En die vissers sal klaag, en almal wat hoeke in die Nyl uitgooi, rou bedrywe; en die wat visnette uitsprei oor die waters, sal verkwyn.

9. En die bewerkers van uitgekamde vlas staan beskaamd, en die wewers van wit stowwe.

10. En sy steunpilare word verbrysel; almal wat vir loon werk, sielsbedroef.

11. Die vorste van Soan is net dwase, die raad van Farao se slimste raadgewers het domheid geword Hoe kan julle vir Farao sê: Ek is ’n seun van die wyse manne, ’n seun van die konings uit die voortyd?

12. Waar is hulle dan, jou wyse manne? Laat hulle jou tog te kenne gee, dat ’n mens kan weet wat die Here van die leërskare oor Egipte besluit het.

13. Die vorste van Soan het dwase geword, die vorste van Nof is bedroë; Egipte is op ’n dwaalweg gebring deur hulle wat die hoeksteen van die stamme is.

14. Die Here het daarin ’n gees van bedwelming gegiet, en Egipte is op ’n dwaalweg gebring in al sy werk, soos ’n dronkaard tuimel in sy uitbraaksel.

15. So is daar dan vir Egipte geen werk wat gedoen word deur kop of stert, palmtak of biesie nie.

16. In dié dag sal die Egiptenaars wees soos die vroue: hulle sal bewe en vrees vir die handgeswaai van die Here van die leërskare wat Hy teen hulle swaai.

17. En die land Juda sal vir die Egiptenaars ’n skrik wees: as iemand daarvan melding maak by hulle, bewe hulle vanweë die besluit van die Here van die leërskare wat Hy teen hulle geneem het.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 19