Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 11:5-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees.

6. Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja.

7. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os;

8. en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk.

9. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek.

10. En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Ísai, wat daar staan as ’n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees.

11. En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sínear en Hamat en uit die kuslande van die see;

12. en Hy sal ’n banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom die seuns van Israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 11