Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 10:21-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

21. Die oorblyfsel sal terugkom, die oorblyfsel van Jakob na die sterke God toe.

22. Want al was jou volk, o Israel, soos die sand van die see, net ’n oorblyfsel van hulle sal terugkom; die verdelging is vas besluit en vloei oor van geregtigheid.

23. Want ’n verdelging wat vas besluit is, sal die Here Here van die leërskare voltrek in die midde van die hele aarde.

24. Daarom, so sê die Here Here van die leërskare: o My volk wat in Sion woon, wees nie bevrees vir Assur wat jou met die staf slaan en sy stok teen jou ophef op die manier van Egipte nie.

25. Want nog ’n baie kort rukkie, dan is die grimmigheid ten einde, en my toorn gaan uit om húlle te vernietig.

26. En die Here van die leërskare sal oor hom die gésel swaai soos Mídian verslaan is by die rots Oreb; en sy staf sal wees oor die see, en Hy sal dit ophef op die manier van Egipte.

27. En in dié dag sal sy las afgly van jou skouer en sy juk van jou nek, en die juk sal tot niet raak vanweë die vettigheid.

28. Hy oorval Ajat; hy trek deur Migron; in Migmas laat hy sy pakgoed agterbly.

29. Hulle trek oor die nek. Laat Geba ons nagverblyf wees! Rama bewe, Gíbea van Saul vlug.

30. Skreeu dit uit, dogter van Gallim! Luister, Lais! Arme Ánatot!

31. Madména vlug, die inwoners van Gebim soek skuiling!

32. Nog vandag staan hy in Nob, hy swaai sy hand teen die berg van die dogter van Sion, teen die heuwel van Jerusalem!

33. Maar kyk, die Here Here van die leërskare slaan met skrikwekkende geweld die takke af, en die hoog uitgegroeides word omgekap en die verhewenes neergegooi;

34. en Hy sal die digte takke van die bos met die yster omkap, en die Líbanon sal val deur die Heerlike.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 10