Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 7:2-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Staan in die poort van die huis van die Here, en roep hierdie woord daar uit en sê: Hoor die woord van die Here, o hele Juda, wat deur hierdie poorte ingaan om die Here te aanbid!

3. So sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Maak julle weë en julle handelinge goed, dat Ek julle kan laat woon in hierdie plek.

4. Vertrou nie op bedrieglike woorde nie — wat sê: Die Here se tempel, die Here se tempel, die Here se tempel is dit!

5. Maar as julle jul weë en julle handelinge waarlik goed maak, as julle waarlik reg doen onder mekaar;

6. vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie en agter ander gode nie aan loop tot julle eie skade nie —

7. dan sal Ek julle laat woon in hierdie plek, in die land wat Ek aan julle vaders gegee het, van eeu tot eeu.

8. Kyk, julle vertrou op bedrieglike woorde wat nie baat nie.

9. Sal julle steel, doodslaan en owerspel bedrywe en vals sweer en vir Baäl offerrook laat opgaan en agter ander gode aan loop, wat julle nie ken nie,

10. en dan kom staan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê: Ons is verlos! — om al hierdie gruwels te doen?

11. Is hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, ’n spelonk van moordenaars in julle oë? Ook Ek — kyk, Ek het dit gesien, spreek die Here.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 7