Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 52:19-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. En die owerste van die lyfwag het weggeneem die skottels en die vuurpanne en die komme en die potte en die kandelaars en die rookpanne en die bekers — wat van pure goud en wat van pure silwer was;

20. die twee pilare, die een see en die twaalf koperbeeste daaronder; die afspoelwaentjies wat koning Salomo vir die huis van die Here gemaak het — die koper van al hierdie voorwerpe kon nie geweeg word nie.

21. Wat betref die pilare, agttien el was die hoogte van een pilaar, en ’n lyn van twaalf el kon dit omspan; en sy dikte was vier vinger; dit was hol.

22. En ’n kapiteel van koper was daarop, en die hoogte van een kapiteel was vyf el, met vlegwerk en granaatjies op die kapiteel rondom, alles van koper; en net so aan die tweede pilaar, met granaatjies.

23. En van die granaatjies was ses-en-negentig sigbaar; al die granaatjies was honderd op die vlegwerk rondom.

24. Verder het die owerste van die lyfwag Serája, die hoofpriester, geneem, en Sefánja, die tweede priester, en die drie drumpelwagters.

25. En uit die stad het hy geneem een hofdienaar wat oor die krygsmanne aangestel was, en sewe man uit die wat die koning se aangesig gesien het, wat in die stad aanwesig was; en die skrywer van die leërowerste wat die mense van die land vir krygsdiens opgeroep het, en sestig man van die mense van die land wat binne-in die stad aanwesig was.

26. En Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, het hulle geneem en hulle na die koning van Babel, na Ribla gebring.

27. En die koning van Babel het hulle neergeslaan en hulle gedood in Ribla, in die land Hamat. So is dan Juda uit sy land in ballingskap weggevoer.

28. Dit is die mense wat Nebukadrésar in ballingskap weggevoer het: in die sewende jaar, drieduisend-drie-en-twintig Jode;

29. in die agttiende jaar van Nebukadrésar, uit Jerusalem agthonderd-twee-en-dertig siele;

30. in die drie-en-twintigste jaar van Nebukadrésar het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, van die Jode sewehonderd-vyf-en-veertig siele in ballingskap weggevoer. Al die siele is vierduisend-seshonderd.

31. En in die sewen-en-dertigste jaar van die ballingskap van Jójagin, die koning van Juda, in die twaalfde maand, op die vyf-en-twintigste van die maand, het Evil-Meródag, die koning van Babel, in die jaar van sy troonsbestyging die hoof van Jójagin, die koning van Juda, verhef en hom uit die gevangenis uitgebring.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 52