Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 51:54-64 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

54. Hoor! Geskreeu uit Babel en groot verbreking uit die land van die Chaldeërs;

55. want die Here verwoes Babel en sal uit hom die groot geraas laat verdwyn; en hulle golwe sal bruis soos groot waters, die gedruis van hulle geluid sal weergalm.

56. Want ’n verwoester oorval hom, oorval Babel, en sy helde word gevang, hulle boë word stukkend gebreek; want ’n God van vergelding is die Here; Hy sal gewis vergelde.

57. En Ek sal sy vorste en sy wyse manne, sy goewerneurs en sy owerstes en sy helde dronk maak; en hulle sal slaap ’n ewige slaap en nie wakker word nie, spreek die Koning wie se Naam is Here van die leërskare.

58. So sê die Here van die leërskare: Die breë muur van Babel sal tot op die grond toe afgebreek en sy hoë poorte sal met vuur verbrand word, sodat volke vir niks gearbei het en nasies vir die vuur; en hulle sal afgemat wees.

59. Die woord waarmee die profeet Jeremia bevel gegee het aan Serája, die seun van Nería, die seun van Magséja, toe hy saam met Sedekía, die koning van Juda, na Babel getrek het, in die vierde jaar van sy regering. En Serája was laerkommandant.

60. En Jeremia het in ’n boek geskrywe al die onheil wat oor Babel sou kom, al hierdie woorde wat oor Babel geskrywe is.

61. En Jeremia het vir Serája gesê: As jy in Babel kom, dink daaraan en lees al hierdie woorde;

62. en sê: o Here, U het oor hierdie plek gespreek om dit uit te roei, sodat daar geen inwoner, mens sowel as dier, sal wees nie, maar dat dit ewige wildernisse sal wees.

63. En as jy hierdie boek klaar gelees het, moet jy ’n klip daaraan vasmaak en dit binne-in die Eufraat gooi

64. en sê: So sal Babel sink en nie weer opkom nie weens die onheil wat Ek oor hom bring; en hulle sal afgemat wees. Tot sover die woorde van Jeremia.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 51