Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 51:2-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. En Ek sal vir Babel wanners stuur wat hom sal uitwan en sy land leegskud; want hulle lê rondom teen hom op die dag van onheil.

3. Laat die skutter sy boog span teen hom wat span, en teen die een wat hom in sy pantser verhef; en spaar sy jongmanne nie, tref sy ganse leër met die banvloek!

4. So sal daar dan gesneuweldes val in die land van die Chaldeërs en die wat deurboor is, op sy strate.

5. Want Israel en Juda is nie in weduweeskap gelaat deur hulle God, deur die Here van die leërskare nie, al was hulle land vol skuld voor die Heilige van Israel.

6. Vlug uit Babel uit, en red elkeen sy lewe; kom nie om in sy ongeregtigheid nie; want dit is die tyd van wraak vir die Here: Hy gee hom sy verdiende loon.

7. Babel was in die hand van die Here ’n goue beker wat die hele aarde dronk gemaak het; die nasies het van sy wyn gedrink; daarom het die nasies rasend geword.

8. Skielik het Babel geval en is verbreek. Huil oor hom; gaan haal balsem vir sy pyn! Miskien sal hy gesond word.

9. Ons het aan Babel medisyne gegee, maar hy het nie gesond geword nie; verlaat hom en laat ons trek, elkeen na sy land; want sy strafgerig raak tot aan die hemel en verhef hom tot by die wolke.

10. Die Here het ons geregtighede te voorskyn gebring; kom en laat ons in Sion vertel die werk van die Here onse God!

11. Maak skerp die pyle, vat die skilde! Die Here het die gees van die konings van Medië opgewek; want sy voorneme is teen Babel om hom te verwoes; want dit is die wraak van die Here, die wraak van sy tempel.

12. Hef ’n banier op teen die mure van Babel, versterk die wagposte, sit wagte uit, hou hinderlae klaar; want soos die Here Hom voorgeneem het, so het Hy gedoen wat Hy oor die inwoners van Babel gespreek het.

13. Jy wat by die groot waters woon, wat skatryk is, jou einde het gekom, die maat waarop jy afgesny word.

14. Die Here van die leërskare het by Homself gesweer: Al het Ek jou vol mense gemaak soos sprinkane, tog sal hulle oor jou ’n vreugdegeroep aanhef.

15. Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand —

16. as Hy sy stem laat hoor, is daar ’n geruis van waters in die hemel; en Hy laat dampe opgaan van die einde van die aarde; Hy maak bliksems vir die reën en laat die wind uitgaan uit sy voorraadskure.

17. Elke mens word dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur die beeld; want sy gegote beeld is ’n leuen, en daar is geen gees in hulle nie.

18. Nietige afgode is hulle, werk vir spotterny; in die tyd van hulle besoeking gaan hulle tot niet.

19. Jakob se deel is nie soos hulle nie; want Hy is die Formeerder van alles, en Israel is die stam van sy erfenis; Here van die leërskare is sy Naam.

20. Jy is vir My ’n hamer en oorlogswapens; en met jou verbrysel Ek nasies, en met jou verwoes Ek koninkryke.

21. En met jou verbrysel Ek die perd en sy ruiter; en met jou verbrysel Ek die strydwa en die wat daarop ry.

22. En Met jou verbrysel Ek man en vrou; en met jou verbrysel Ek grysaard en seun; en met jou verbrysel Ek die jongman en die jongedogter.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 51