Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 50:2-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Verkondig onder die nasies en laat hoor, en steek ’n banier op, laat hoor; verberg dit nie; sê: Babel is ingeneem, Bel staan beskaamd, Meródag is verskrik; sy afgode staan beskaamd, sy drekgode is verskrik.

3. Want ’n volk trek teen hom op uit die Noorde; dit sal sy land ’n woesteny maak, sodat daar geen inwoner in is nie; mense sowel as diere het gevlug, weggetrek.

4. In dié dae en in dié tyd, spreek die Here, sal die kinders van Israel kom, hulle met die kinders van Juda saam; onder geween sal hulle voorttrek en die Here hulle God soek.

5. Hulle sal na Sion vra; op die pad hierheen sal hulle aangesig gerig wees; hulle sal kom en by die Here aansluit in ’n ewige verbond wat nie vergeet sal word nie.

6. ’n Kudde verlore skape was my volk; hulle herders het hulle laat dwaal, hulle weggevoer na die berge toe; hulle het gegaan van berg na heuwel, hulle het hul lêplek vergeet.

7. Almal wat hulle kry, het hulle opgeëet; en hulle teëstanders het gesê: Ons maak ons nie skuldig nie, omdat hulle gesondig het teen die Here, die Woning van geregtigheid en die Verwagting van hulle vaders, die Here.

8. Vlug uit Babel, en gaan uit die land van die Chaldeërs, en wees soos bokke voor die trop kleinvee uit!

9. Want kyk, Ek verwek en laat teen Babel optrek ’n menigte van groot nasies uit die Noordland; dié sal hulle teen hom opstel — daarvandaan sal hy ingeneem word; hulle pyle sal wees soos dié van ’n voorspoedige held wat nie met leë hande terugkom nie.

10. En Chaldéa sal ’n buit word; almal wat hom beroof, sal versadig word; spreek die Here.

11. Al is julle verheug, al jubel julle, plunderaars van my erfenis, al huppel julle soos ’n vers wat graan dors, en runnik julle soos die hingste —

12. julle moeder staan grootliks beskaamd; sy wat julle gebaar het, is rooi van skaamte. Kyk, sy is die agterste van die nasies, ’n woestyn, ’n dor land en ’n wildernis.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 50