Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 5:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. SWERF rond in die strate van Jerusalem, en kyk tog en verneem en soek op sy pleine of julle iemand vind, of daar een is wat reg doen, wat waarheid soek — dan sal Ek daaraan vergifnis skenk.

2. En of hulle al sê: So waar as die Here leef, sekerlik sweer hulle vals.

3. o Here, is u oë nie op opregtheid gerig nie? U het hulle geslaan, maar hulle het geen pyn gevoel nie, hulle tot niet gemaak, maar hulle het geweier om tugtiging aan te neem; hulle het hul aangesig harder gemaak as ’n rots, geweier om hulle te bekeer.

4. Maar ek het gesê: Hulle is maar die geringes; hulle het dwaas gehandel, omdat hulle die weg van die Here, die reg van hulle God, nie ken nie.

5. Laat ek na die grotes gaan en met hulle spreek, want hulle ken die weg van die Here, die reg van hulle God. Maar hulle het almal saam die juk verbreek, die stroppe stukkend geruk.

6. Daarom maak ’n leeu uit die bos hulle dood, ’n wolf van die wildernisse verniel hulle; ’n luiperd loer by hulle stede; almal wat daaruit gaan, word verskeur; want hulle oortredinge is baie, hulle afkerighede geweldig.

7. Waarom sou Ek jou vergewe? Jou kinders het My verlaat en gesweer by die wat geen god is nie. En toe Ek hulle versadig het, het hulle owerspel bedrywe en by hope versamel in die hoerhuis.

8. Soos vet gevoerde hingste swerf hulle rond; hulle runnik elkeen na die vrou van sy naaste.

9. Sou Ek hieroor geen besoeking doen nie? spreek die Here. Of sou my siel hom nie wreek op ’n nasie soos hierdie een nie?

Lees volledige hoofstuk Jeremia 5