Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 49:28-39 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

28. OOR Kedar en oor die koninkryke van Hasor wat Nebukadrésar, die koning van Babel, verslaan het. So sê die Here: Maak julle klaar, trek op teen Kedar, en verdelg die kinders van die Ooste.

29. Hulle sal hulle tente en kleinvee wegvoer, hulle tentdoeke en al hulle huisraad en hulle kamele meeneem, en oor hulle uitroep: Skrik rondom!

30. Vlug, vlug haastig, skuil diep weg, o inwoners van Hasor, spreek die Here; want Nebukadrésar, die koning van Babel, het ’n besluit teen julle geneem en ’n plan teen julle beraam.

31. Maak julle klaar, trek op teen ’n sorgelose nasie wat in gerustheid woon, spreek die Here, wat geen poorte of grendel het nie, wat alleen woon.

32. En hulle kamele sal ’n roof en die menigte van hulle vee ’n buit wees; en Ek sal hulle verstrooi na al die windstreke, die wat aan die rand hulle hare wegskeer; en Ek sal hulle ondergang van alle kante aanbring, spreek die Here.

33. En Hasor sal word ’n lêplek van jakkalse, ’n wildernis tot in ewigheid; niemand sal daar woon nie, en geen mensekind sal daar vertoef nie.

34. DIE woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het oor Elam, in die begin van die regering van Sedekía, die koning van Juda, naamlik:

35. So sê die Here van die leërskare: Kyk, Ek verbreek die boog van Elam, die keur van hulle krag.

36. En Ek sal vier winde uit die vier hoeke van die hemel oor Elam aanbring en sal hulle na al hierdie windstreke verstrooi; en daar sal geen nasie wees waar die verjaagdes van Elam nie sal kom nie.

37. En Ek sal Elam verskrik voor hulle vyande en voor die wat hulle lewe soek, en Ek sal onheil oor hulle bring, die gloed van my toorn, spreek die Here; en Ek sal die swaard agter hulle aan stuur totdat Ek hulle vernietig het.

38. En Ek sal my troon in Elam vestig, en sal koning en vorste daaruit tot niet maak, spreek die Here.

39. Maar aan die einde van die dae sal Ek die lot van Elam verander, spreek die Here.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 49