Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 49:19-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. Kyk, soos ’n leeu uit die pronkbosse van die Jordaan sal daar een optrek teen die vaste woning; want in ’n oomblik sal Ek hulle daaruit wegjaag; en hom wat uitgekies is, sal Ek daaroor aanstel. Want wie is soos Ek? En wie sal My dagvaar? En wie is tog ’n herder wat voor my aangesig kan standhou?

20. Daarom, hoor die raadsbesluit van die Here wat Hy teen Edom geneem en sy planne wat Hy teen die inwoners van Teman beraam het: Waarlik, die kleinstes van die kudde sal weggesleep word; waarlik, hulle weiveld sal oor hulle verslae wees.

21. Van die geluid van hulle val bewe die aarde; daar is ’n geskreeu — by die Skelfsee word die geluid daarvan gehoor.

22. Kyk, een sal opstyg en vlieg soos ’n arend en sy vlerke oor Bosra uitsprei; en die hart van die helde van Edom sal in dié dag wees soos die hart van ’n vrou wat in nood is.

23. OOR Damaskus. Beskaamd staan Hamat en Arpad, want hulle het slegte tyding gehoor; hulle beweeg, soos die see, in bekommernis, dit kan nie rus nie.

24. Damaskus is ontmoedig, hy het omgedraai om te vlug, en skrik het hom aangegryp; benoudheid en weë soos van een wat baar, het hom aangegryp.

25. Hoe is die roemryke stad nie verlaat nie, die vesting van my vreugde!

26. Daarom sal sy jongmanne val op sy pleine, en al die krygsmanne in dié dag omkom, spreek die Here van die leërskare.

27. En Ek sal ’n vuur aansteek in die muur van Damaskus, en dit sal die paleise van Bénhadad verteer.

28. OOR Kedar en oor die koninkryke van Hasor wat Nebukadrésar, die koning van Babel, verslaan het. So sê die Here: Maak julle klaar, trek op teen Kedar, en verdelg die kinders van die Ooste.

29. Hulle sal hulle tente en kleinvee wegvoer, hulle tentdoeke en al hulle huisraad en hulle kamele meeneem, en oor hulle uitroep: Skrik rondom!

30. Vlug, vlug haastig, skuil diep weg, o inwoners van Hasor, spreek die Here; want Nebukadrésar, die koning van Babel, het ’n besluit teen julle geneem en ’n plan teen julle beraam.

31. Maak julle klaar, trek op teen ’n sorgelose nasie wat in gerustheid woon, spreek die Here, wat geen poorte of grendel het nie, wat alleen woon.

32. En hulle kamele sal ’n roof en die menigte van hulle vee ’n buit wees; en Ek sal hulle verstrooi na al die windstreke, die wat aan die rand hulle hare wegskeer; en Ek sal hulle ondergang van alle kante aanbring, spreek die Here.

33. En Hasor sal word ’n lêplek van jakkalse, ’n wildernis tot in ewigheid; niemand sal daar woon nie, en geen mensekind sal daar vertoef nie.

34. DIE woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het oor Elam, in die begin van die regering van Sedekía, die koning van Juda, naamlik:

Lees volledige hoofstuk Jeremia 49