Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 48:19-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. Gaan staan op die pad, en kyk uit, o inwoner van Ároër! Vra vir hom wat vlug en vir haar wat ontkom; sê: Wat het gebeur?

20. Moab staan beskaamd, want hy is verslae. Huil en skreeu, verkondig dit by die Arnon dat Moab verwoes is!

21. Ja, ’n oordeel het gekom oor die land van die gelykte, oor Holon en oor Jahas en oor Mefáät,

22. en oor Dibon en oor Nebo en oor Bet-Diblatáim,

23. en oor Kirjatáim en oor Bet-Gamul en oor Bet-Meon,

24. en oor Kérijot en oor Bosra, ja, oor al die stede van die land Moab, die wat ver en die wat naby is.

25. Die horing van Moab is afgekap en sy arm is verbreek, spreek die Here.

26. Maak hom dronk, omdat hy hom groot gehou het teen die Here, sodat Moab neerslaan in sy uitbraaksel en hy self ook ’n belagging word.

27. Want was Israel vir jou nie ’n bespotting nie? Of is hy onder die diewe betrap, dat jy die hoof geskud het so dikwels as jy van hom gespreek het?

28. Verlaat die stede en gaan woon in die rots, inwoners van Moab! En word soos ’n duif wat sy nes maak oorkant die opening van die afgrond.

29. Ons het van die trotsheid van Moab gehoor — hy is baie trots! — van sy hoogheid en sy trotsheid en sy hoogmoed en die verheffing van sy hart.

30. Ek ken sy grimmigheid, spreek die Here, en sy onbehoorlike grootpratery; onbehoorlik het hulle gehandel.

31. Daarom sal ek oor Moab huil, ja, oor die hele Moab dit uitskreeu; oor die manne van Kir-Heres sug hulle.

32. Bo die geween van Jaéser sal ek jou beween, o wingerdstok van Sibma! Jou ranke het gegaan oor die see, tot by die see van Jaéser het hulle gekom — die verwoester het jou somervrugte en jou druiwe-oes oorval.

33. Daarom is vreugde en gejuig weggeneem uit die land van tuine en uit die land Moab, en Ek het die wyn uit die parskuipe laat verdwyn; hulle sal dit nie trap met vreugdegeroep nie; die vreugdegeroep sal geen vreugdegeroep wees nie.

34. Weens die geskreeu van Hesbon tot by Eleále, tot by Jahas het hulle hul stem verhef, van Soar af tot by Horonáim, Eglat-Selísia; want ook die waters van Nimrim sal ’n woesteny word.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 48