Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 48:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. OOR Moab. So sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Wee oor Nebo, want dit is verwoes; Kirjatáim staan beskaamd, dit is ingeneem; die rotsvesting is beskaamd en verskrik.

2. Uit is dit met die roem van Moab; in Hesbon het hulle onheil teen hom bedink en gesê: Kom laat ons hom uitroei, dat hy geen nasie meer is nie. Ook jy, Madmen, sal verwoes word, die swaard sal jou agtervolg.

3. Hoor! Geskreeu uit Horonáim: verwoesting en ’n groot vernieling.

4. Moab is verbreek; sy kleintjies laat ’n geskreeu hoor.

5. Want die hoogte van Luhit gaan hulle op met geween by geween; want aan die hange van Horonáim het hulle angsgeskreeu van verbreking gehoor.

6. Vlug, red julle lewe, en word soos ’n kaal bos in die woestyn!

7. Want omdat jy vertrou het op jou handelinge en op jou voorrade, sal jý ook ingeneem word; en Kamos sal uittrek in ballingskap, sy priesters en sy vorste almal saam.

8. En die verwoester sal kom oor elke stad, sodat geen stad sal vryraak nie; en die dal sal te gronde gaan, en die gelyk veld sal verwoes word, soos die Here gesê het.

9. Gee vlerke aan Moab, want hy sal moet wegvlieg; en sy stede sal ’n woesteny word, sonder dat daar iemand in woon.

10. Vervloek is hy wat nalatig is om die werk van die Here te doen; ja, vervloek is hy wat sy swaard van bloed terughou!

11. Moab was gerus van sy jeug af en het stil gelê op sy afsaksel, sonder dat hy leeggemaak is van vat in vat: hy het nie in ballingskap gegaan nie; daarom het sy smaak in hom gebly en sy geur nie verander nie.

12. Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek aftappers na hom sal stuur wat hom sal aftap en sy vate sal leegmaak en sy kruike stukkend slaan.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 48