Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 4:10-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Toe het ek gesê: Ag, Here Here, waarlik, U het hierdie volk en Jerusalem grootliks mislei met die woorde: Julle sal vrede hê — terwyl die swaard tot aan die siel raak.

11. In dié tyd sal aan hierdie volk en aan Jerusalem gesê word: ’n Gloeiende wind van die kaal heuwels in die woestyn op pad na die dogter van my volk, nie om te wan of te suiwer nie!

12. ’n Wind te sterk vir hierdie dinge sal vir My kom; nou sal Ek ook oordele teen hulle uitspreek.

13. Kyk, soos wolke kom hy op, en soos ’n stormwind is sy strydwaens; sy perde is vinniger as arende. Wee ons, want ons is verwoes!

14. Was jou hart van boosheid, o Jerusalem, dat jy gered kan word. Hoe lank sal jou onheilsgedagtes in jou binneste vertoef?

15. Want ’n stem verkondig uit Dan en laat onheil hoor van die gebergte van Efraim af.

16. Vermeld dit aan die nasies! Kyk, laat dit hoor teen Jerusalem! Beleëraars kom uit ’n ver land en het hulle stem verhef teen die stede van Juda.

17. Soos veldwagters is hulle teen die stad rondom, omdat dit teen My wederstrewig was, spreek die Here.

18. Jou wandel en jou handel het jou dit aangedoen; dit is jou boosheid; ja, bitter is dit, ja, dit raak tot aan jou hart.

19. o My ingewande, my ingewande, ek moet bewe van angs! o Mure van my hart! My hart steun in my, ek kan nie swyg nie; want jy, my siel, het basuingeluid gehoor, oorlogsgeskreeu!

20. Verwoesting op verwoesting word uitgeroep, want die hele land is verwoes; skielik is my tente verwoes, my tentdoeke in ’n oomblik.

21. Hoe lank sal ek die banier sien, die basuingeluid hoor?

22. Want my volk is dwaas; My ken hulle nie; dwase kinders is hulle, en hulle is onverstandig; slim is hulle om kwaad te doen, maar om goed te doen, weet hulle nie.

23. Ek het na die aarde gekyk, en dit was woes en leeg; ook na die hemel, en sy lig was daar nie.

24. Ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe, en al die heuwels het geskud.

25. Ek het gekyk, en daar was geen mens nie, en al die voëls van die hemel het weggevlieg.

26. Ek het gekyk, en die land van tuine was ’n woestyn, en al sy stede was afgebreek voor die Here, voor sy toorngloed.

27. Want so sê die Here: Die hele land sal ’n wildernis word, alhoewel Ek daar geen einde aan sal maak nie.

28. Hieroor sal die aarde treur en die hemel daarbo rou dra, omdat Ek dit gespreek, My dit voorgeneem het en Ek geen berou het en daarvan nie sal terugkom nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 4