Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 38:12-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. En Ebed-Meleg, die Kusiet, het vir Jeremia gesê: Sit tog die verslyte en geskeurde lappe onder jou armholtes onder die toue; en Jeremia het so gedoen.

13. En hulle het Jeremia aan die toue opgetrek en hom uit die put uitgehaal. En Jeremia het in die voorhof van bewaking gebly.

14. Toe stuur koning Sedekía en hy laat die profeet Jeremia na hom bring in die derde ingang wat by die huis van die Here was; en die koning het vir Jeremia gesê: Ek wil jou iets vra; steek vir my niks weg nie.

15. Maar Jeremia het Sedekía geantwoord: As ek u dit te kenne gee, sal u my nie sekerlik doodmaak nie? En as ek u raad gee, sal u na my nie luister nie.

16. Toe sweer koning Sedekía vir Jeremia in die geheim en sê: So waar as die Here leef wat aan ons hierdie lewe verleen het — ek sal jou nie doodmaak en jou nie oorgee in die hand van hierdie manne wat jou lewe soek nie!

17. Daarop sê Jeremia vir Sedekía: So spreek die Here, die God van die leërskare, die God van Israel: As u vrywillig uitgaan na die vorste van die koning van Babel, sal u siel lewe en sal hierdie stad nie met vuur verbrand word nie; en u sal lewe, u en u huis.

18. Maar as u nie uitgaan na die vorste van die koning van Babel nie, sal hierdie stad in die hand van die Chaldeërs oorgegee word, en hulle sal dit met vuur verbrand; en u self sal uit hulle hand nie vryraak nie.

19. Toe sê koning Sedekía vir Jeremia: Ek is bevrees dat hulle my in die hand van die Jode wat na die Chaldeërs oorgeloop het, sal oorgee en dat dié met my die spot sal drywe.

20. Maar Jeremia antwoord: Hulle sal u nie oorgee nie. Luister tog na die stem van die Here in wat ek aan u sê; dan sal dit goed met u gaan en u siel sal lewe.

21. Maar as u weier om uit te gaan — dit is die woord wat die Here my laat sien het:

22. Kyk, al die vroue wat in die paleis van die koning van Juda oorgebly het, is uitgelei na die vorste van die koning van Babel, terwyl hulle gesê het: Die manne met wie u vriendskap gehou het, het u verlei en u oorweldig; toe u voete in die modder ingesak het, het hulle agteruitgewyk.

23. Hulle sal dan al u vroue en u kinders na die Chaldeërs uitlei; ook sal u self uit hulle hand nie vryraak nie; maar u sal deur die hand van die koning van Babel gevang word, en hierdie stad sal met vuur verbrand word.

24. Toe sê Sedekía vir Jeremia: Laat niemand van hierdie woorde weet nie, dat jy nie sterwe nie.

25. En as die vorste hoor dat ek met jou gespreek het en by jou kom en aan jou sê: Vertel ons tog wat jy met die koning gespreek het; steek dit nie vir ons weg nie, en ons sal jou nie doodmaak nie; en wat het die koning met jou gespreek? —

26. dan moet jy hulle antwoord: Ek het my smeking eerbiedig voor die koning gebring, dat hy my nie moet laat terugbring in die huis van Jónatan, om daar te sterwe nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 38