Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 37:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN Sedekía, die seun van Josía, wat Nebukadrésar, die koning van Babel, koning gemaak het in die land Juda, het as koning geregeer in die plek van Gonja, die seun van Jójakim.

2. Maar hy het nie geluister, hy en sy dienaars en die volk van die land, na die woorde van die Here wat Hy deur die diens van die profeet Jeremia gespreek het nie.

3. Nogtans het koning Sedekía met Jugal, die seun van Selémja, en Sefánja, die seun van Maäséja, die priester, die profeet Jeremia laat weet: Bid tog tot die Here onse God vir ons.

4. Toe het Jeremia nog in- en uitgegaan onder die volk, en hulle het hom nog nie in die gevangenis gesit nie.

5. Ook het die leër van Farao uit Egipte uitgetrek; en toe die Chaldeërs wat besig was om Jerusalem te beleër, die tyding aangaande hulle hoor, het hulle van Jerusalem af opgetrek.

6. Daarop kom die woord van die Here tot die profeet Jeremia en sê:

7. So spreek die Here, die God van Israel: So moet julle sê aan die koning van Juda wat julle na My gestuur het om My te raadpleeg: Kyk, die leër van Farao wat uitgetrek het om julle te help, sal teruggaan na sy land, na Egipte toe;

8. en die Chaldeërs sal terugkom en teen hierdie stad oorlog voer en dit inneem en dit met vuur verbrand.

9. So spreek die Here: Bedrieg julleself nie deur te sê: Die Chaldeërs sal sekerlik van ons af wegtrek — want hulle sal nie wegtrek nie.

10. Want al sou julle die hele leër van die Chaldeërs wat teen julle oorlog voer, verslaan, sodat daar onder hulle net swaar gewondes oorbly, dan sou hulle elkeen in sy tent opstaan en hierdie stad met vuur verbrand.

11. En toe die leër van die Chaldeërs van Jerusalem af opgetrek het vanweë die leër van Farao,

12. wou Jeremia Jerusalem verlaat om in die land Benjamin te gaan, om daar te midde van die volk ’n erfdeel in ontvangs te neem.

13. Toe hy in die Benjaminspoort kom, was daar ’n voorman van die wag met die naam Jiría, die seun van Selémja, die seun van Hanánja; en hy het die profeet Jeremia gevang, met die woorde: Jy wil na die Chaldeërs oorloop!

Lees volledige hoofstuk Jeremia 37