Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 36:14-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Toe stuur al die vorste Jehúdi, die seun van Netánja, die seun van Selémja, die seun van Kusi, na Barug, met die boodskap: Die rol waaruit jy voor die ore van die volk gelees het, neem dit in jou hand en kom. Daarop neem Barug, die seun van Nería, die rol in sy hand, en hy het by hulle gekom.

15. En hulle sê vir hom: Sit tog en lees dit voor ons ore. En Barug het voor hulle ore gelees.

16. Toe hulle al die woorde hoor, het hulle mekaar verskrik aangekyk en vir Barug gesê: Ons moet al hierdie woorde sekerlik aan die koning bekend maak.

17. En hulle het Barug gevra: Vertel ons tog hoe het jy al hierdie woorde uit sy mond opgeskrywe?

18. Toe antwoord Barug hulle: Uit sy mond het hy my al hierdie woorde voorgesê, en ek het hulle met ink in die boek geskrywe.

19. Daarop sê die vorste vir Barug: Gaan, verberg jou, jy en Jeremia, en laat geen mens weet waar julle is nie.

20. En hulle het na die koning in die voorhof gegaan — die rol het hulle weggesit in die kamer van Elisáma, die skrywer — en al die woorde voor die ore van die koning gemeld.

21. Toe stuur die koning Jehúdi om die rol te gaan haal; en hy het dit gaan haal uit die kamer van Elisáma, die skrywer. En Jehúdi het dit gelees voor die ore van die koning en van al die vorste wat by die koning staan,

22. terwyl die koning gesit het in die winterpaleis, in die negende maand, met die brandende vuurpan voor hom.

23. En elke keer het hy, as Jehúdi drie of vier kolomme gelees het, dit met die mes van ’n skrywer stukkend gesny en in die vuur gegooi wat op die vuurpan was, totdat die hele rol in die vuur op die vuurpan verteer was.

24. En hulle was nie verskrik nie en het hulle klere nie geskeur nie — die koning en al sy dienaars wat al hierdie woorde gehoor het;

25. alhoewel selfs Élnatan en Delája en Gemárja by die koning daarop aangedring het om die rol nie te verbrand nie; maar hy het na hulle nie geluister nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 36