Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 33:14-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek die goeie woord in vervulling laat gaan wat Ek gespreek het aangaande die huis van Israel en die huis van Juda.

15. In dié dae en in dié tyd sal Ek vir Dawid ’n Spruit van geregtigheid laat uitspruit, en Hy sal reg en geregtigheid doen in die land.

16. In dié dae sal Juda verlos word en Jerusalem veilig woon; en dit sal die naam daarvan wees: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.

17. Want so sê die Here: Daar sal vir Dawid nie ’n man ontbreek wat sit op die troon van die huis van Israel nie;

18. en daar sal vir die Levitiese priesters nooit voor my aangesig ’n man ontbreek wat altyddeur brandoffers bring en spysoffers aan die brand steek en slagoffers berei nie.

19. En die woord van die Here het tot Jeremia gekom en gesê:

20. So spreek die Here: As julle my verbond met die dag en my verbond met die nag kan verbreek, dat daar geen dag of nag op hulle tyd is nie,

21. dan sal ook my verbond met Dawid, my kneg, verbreek kan word, dat daar vir hom geen seun sal wees wat regeer op sy troon nie, en met die Leviete, die priesters, my dienaars.

22. Soos die leër van die hemel nie getel en die sand van die see nie gemeet kan word nie, so sal Ek vermenigvuldig die nageslag van my kneg Dawid, en die Leviete wat My dien.

23. Verder het die woord van die Here tot Jeremia gekom en gesê:

24. Het jy nie gemerk wat hierdie volk spreek nie as hulle sê: Die twee geslagte wat die Here uitverkies het, dié het Hy verwerp? En hulle verag my volk, sodat dit geen nasie voor hulle meer is nie.

25. So sê die Here: As Ek my verbond met dag en nag, die insettinge van hemel en aarde, nie vasgestel het nie,

26. dan sal Ek ook die nageslag van Jakob en van my kneg Dawid verwerp, dat Ek nie uit sy nageslag heersers sal neem oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob nie; want Ek sal hulle lot verander en My oor hulle ontferm.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 33