Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:9-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Daarop het ek van Hanámeël, die seun van my oom, die stuk grond gekoop wat in Ánatot lê, en vir hom die geld afgeweeg: sewentien sikkels silwer.

10. En ek het dit in die brief geskrywe en dit verseël en getuies geneem en die geld afgeweeg op ’n weegskaal.

11. Toe het ek die koopbrief geneem, die verseëlde een — volgens voorskrif en wetlike bepalinge — en die oop een,

12. en die koopbrief aan Barug, die seun van Nería, die seun van Magséja, gegee voor die oë van Hanámeël, die seun van my oom, en voor die oë van die getuies wat die koopbrief onderteken het; voor die oë van al die Jode wat in die voorhof van bewaking gesit het;

13. en ek het aan Barug voor hulle oë bevel gegee en gesê:

14. So spreek die Here van die leërskare, die God van Israel: Neem hierdie briewe, hierdie koopbrief, die verseëlde een sowel as hierdie oop brief, en sit hulle in ’n erdepot, dat hulle baie dae kan bly bestaan.

15. Want so sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Daar sal weer huise en gronde en wingerde in hierdie land gekoop word.

16. En nadat ek die koopbrief aan Barug, die seun van Nería, gegee het, het ek tot die Here gebid en gesê:

17. Ag, Here Here, kyk, U het die hemel en die aarde gemaak deur u grote krag en deur u uitgestrekte arm; geen ding is vir U te wonderbaar nie.

18. U wat guns bewys aan duisende en die ongeregtigheid van die vaders vergeld in die skoot van hulle kinders ná hulle; die grote, die geweldige God, wie se Naam is Here van die leërskare,

19. groot van raad en magtig van daad, wie se oë oop is oor al die weë van die mensekinders om aan elkeen te gee volgens sy weë en die vrug van sy handelinge;

20. wat tekens en wonders gedoen het in Egipteland, tot vandag toe, in Israel sowel as onder die mense, en vir U ’n Naam gemaak het soos dit vandag is,

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32