Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:34-44 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

34. Maar hulle het hul verfoeisels neergesit in die huis waar my Naam oor uitgeroep is, om dit te verontreinig;

35. en hulle het die hoogtes van Baäl gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters vir Molog deur die vuur te laat gaan — iets wat Ek hulle nie beveel het nie en wat in my hart nie opgekom het nie, dat hulle hierdie gruwel sou bedrywe om Juda te laat sondig.

36. Daarom, so spreek dan nou die Here, die God van Israel, aangaande hierdie stad waarvan julle sê: Dit is in die hand van die koning van Babel oorgegee deur die swaard en die hongersnood en die pes —

37. kyk, Ek laat hulle bymekaarkom uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het in my toorn en in my grimmigheid en in groot gramskap; en Ek sal hulle na hierdie plek terugbring en hulle veilig laat woon.

38. En hulle sal vir My ’n volk wees, en Ek sal vir hulle ’n God wees.

39. En Ek sal hulle een hart en een weg gee om My altyd te vrees, hulle ten goede en hulle kinders ná hulle.

40. En Ek sal ’n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie.

41. En Ek sal My oor hulle verheug om aan hulle goed te doen; en Ek sal hulle duursaam in hierdie land plant, met my hele hart en met my hele siel.

42. Want so sê die Here: Soos Ek oor hierdie volk gebring het al hierdie groot onheile, so bring Ek oor hulle al die goeie wat Ek oor hulle spreek.

43. En daar sal grond gekoop word in hierdie land waarvan julle sê: Dit is ’n wildernis, sonder mens of dier; dit is in die hand van die Chaldeërs oorgegee.

44. Gronde sal hulle vir geld koop en die briewe onderteken en verseël en getuies neem, in die land Benjamin en in die omstreke van Jerusalem en in die stede van Juda en in die stede van die Gebergte en in die stede van die Laeveld en in die stede van die Suidland; want Ek sal hulle lot verander, spreek die Here.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32