Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:30-37 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

30. Want die kinders van Israel en die kinders van Juda het van hulle jeug af net gedoen wat verkeerd is in my oë; want die kinders van Israel het My deur die werk van hulle hande net geterg, spreek die Here.

31. Want ’n oorsaak vir my toorn en my grimmigheid was hierdie stad vir My van die dag af dat hulle dit gebou het tot vandag toe, sodat Ek dit van my aangesig moet verwyder,

32. weens al die boosheid van die kinders van Israel en van die kinders van Juda wat hulle gedoen het om My te terg, hulle, hulle konings, hulle vorste, hulle priesters en hulle profete en die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem,

33. dat hulle My die rug toegekeer het en nie die aangesig nie, alhoewel Ek hulle geleer het, vroeg en laat, sonder dat hulle geluister het om tugtiging aan te neem.

34. Maar hulle het hul verfoeisels neergesit in die huis waar my Naam oor uitgeroep is, om dit te verontreinig;

35. en hulle het die hoogtes van Baäl gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters vir Molog deur die vuur te laat gaan — iets wat Ek hulle nie beveel het nie en wat in my hart nie opgekom het nie, dat hulle hierdie gruwel sou bedrywe om Juda te laat sondig.

36. Daarom, so spreek dan nou die Here, die God van Israel, aangaande hierdie stad waarvan julle sê: Dit is in die hand van die koning van Babel oorgegee deur die swaard en die hongersnood en die pes —

37. kyk, Ek laat hulle bymekaarkom uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het in my toorn en in my grimmigheid en in groot gramskap; en Ek sal hulle na hierdie plek terugbring en hulle veilig laat woon.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32