Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:20-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

20. wat tekens en wonders gedoen het in Egipteland, tot vandag toe, in Israel sowel as onder die mense, en vir U ’n Naam gemaak het soos dit vandag is,

21. en u volk Israel uitgelei het uit Egipteland deur tekens en wonders en deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm en deur ’n groot verskrikking,

22. en aan hulle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle te gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning;

23. en hulle het gekom en dit in besit geneem, maar nie na u stem geluister en in u wet nie gewandel nie; alles wat U hulle beveel het om te doen, het hulle nie gedoen nie. Daarom het U al hierdie onheil oor hulle laat kom.

24. Kyk, die walle het gekom tot by die stad, om dit in te neem; en die stad is oorgegee in die hand van die Chaldeërs wat daarteen veg, vanweë die swaard en die hongersnood en die pes. Ja, wat U gespreek het, het gebeur; en kyk, U sien dit!

25. En tog het U, Here Here, self aan my gesê: Koop vir jou die stuk grond vir geld en neem getuies, terwyl die stad in die hand van die Chaldeërs oorgegee is!

26. Toe het die woord van die Here tot Jeremia gekom en gesê:

27. Kyk, Ek is die Here, die God van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar wees?

28. Daarom, so sê die Here: Kyk, Ek gee hierdie stad oor in die hand van die Chaldeërs en in die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel, en hy sal dit inneem.

29. En die Chaldeërs wat teen hierdie stad veg, sal kom en hierdie stad aan die brand steek en dit verbrand, saam met die huise op die dakke waarvan hulle vir Baäl rook laat opgaan het en vir ander gode drankoffers uitgegiet het om My te terg.

30. Want die kinders van Israel en die kinders van Juda het van hulle jeug af net gedoen wat verkeerd is in my oë; want die kinders van Israel het My deur die werk van hulle hande net geterg, spreek die Here.

31. Want ’n oorsaak vir my toorn en my grimmigheid was hierdie stad vir My van die dag af dat hulle dit gebou het tot vandag toe, sodat Ek dit van my aangesig moet verwyder,

32. weens al die boosheid van die kinders van Israel en van die kinders van Juda wat hulle gedoen het om My te terg, hulle, hulle konings, hulle vorste, hulle priesters en hulle profete en die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem,

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32