Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:16-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. En nadat ek die koopbrief aan Barug, die seun van Nería, gegee het, het ek tot die Here gebid en gesê:

17. Ag, Here Here, kyk, U het die hemel en die aarde gemaak deur u grote krag en deur u uitgestrekte arm; geen ding is vir U te wonderbaar nie.

18. U wat guns bewys aan duisende en die ongeregtigheid van die vaders vergeld in die skoot van hulle kinders ná hulle; die grote, die geweldige God, wie se Naam is Here van die leërskare,

19. groot van raad en magtig van daad, wie se oë oop is oor al die weë van die mensekinders om aan elkeen te gee volgens sy weë en die vrug van sy handelinge;

20. wat tekens en wonders gedoen het in Egipteland, tot vandag toe, in Israel sowel as onder die mense, en vir U ’n Naam gemaak het soos dit vandag is,

21. en u volk Israel uitgelei het uit Egipteland deur tekens en wonders en deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm en deur ’n groot verskrikking,

22. en aan hulle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle te gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning;

23. en hulle het gekom en dit in besit geneem, maar nie na u stem geluister en in u wet nie gewandel nie; alles wat U hulle beveel het om te doen, het hulle nie gedoen nie. Daarom het U al hierdie onheil oor hulle laat kom.

24. Kyk, die walle het gekom tot by die stad, om dit in te neem; en die stad is oorgegee in die hand van die Chaldeërs wat daarteen veg, vanweë die swaard en die hongersnood en die pes. Ja, wat U gespreek het, het gebeur; en kyk, U sien dit!

25. En tog het U, Here Here, self aan my gesê: Koop vir jou die stuk grond vir geld en neem getuies, terwyl die stad in die hand van die Chaldeërs oorgegee is!

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32