Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DIE woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die tiende jaar van Sedekía, die koning van Juda — hierdie jaar was die agttiende jaar van Nebukadrésar.

2. (Die leër van die koning van Babel het toe Jerusalem beleër, en die profeet Jeremia was opgesluit in die voorhof van bewaking wat in die huis van die koning van Juda is;

3. waar Sedekía die koning van Juda, hom opgesluit het, met die woorde: Waarom profeteer jy en sê: So spreek die Here: Kyk, Ek gee hierdie stad in die hand van die koning van Babel, en hy sal dit inneem;

4. en Sedekía, die koning van Juda, sal uit die hand van die Chaldeërs nie ontvlug nie; maar hy sal sekerlik oorgegee word in die hand van die koning van Babel, en hy sal mond tot mond met hom spreek en oog in oog hom sien;

5. en hy sal Sedekía na Babel bring, en daar sal hy wees totdat Ek op hom ag gee, spreek die Here Alhoewel julle teen die Chaldeërs veg, sal julle tog geen voorspoed hê nie.)

6. En Jeremia het gesê: Die woord van die Here het tot my gekom en gesê:

7. Kyk, Hanámeël, die seun van Sallum, jou oom, kom na jou toe met die woorde: Koop vir jou my stuk grond wat in Ánatot lê, want jy het die reg van lossing om te koop.

8. En Hanámeël, die seun van my oom, het na my gekom volgens die woord van die Here in die voorhof van bewaking en vir my gesê: Koop tog my stuk grond wat in Ánatot in die land Benjamin lê, want jy het die reg van besit en jy het die lossing; koop dit vir jou. Toe het ek gemerk dat dit die woord van die Here was.

9. Daarop het ek van Hanámeël, die seun van my oom, die stuk grond gekoop wat in Ánatot lê, en vir hom die geld afgeweeg: sewentien sikkels silwer.

10. En ek het dit in die brief geskrywe en dit verseël en getuies geneem en die geld afgeweeg op ’n weegskaal.

11. Toe het ek die koopbrief geneem, die verseëlde een — volgens voorskrif en wetlike bepalinge — en die oop een,

12. en die koopbrief aan Barug, die seun van Nería, die seun van Magséja, gegee voor die oë van Hanámeël, die seun van my oom, en voor die oë van die getuies wat die koopbrief onderteken het; voor die oë van al die Jode wat in die voorhof van bewaking gesit het;

13. en ek het aan Barug voor hulle oë bevel gegee en gesê:

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32