Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 31:16-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. So sê die Here: Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die Here; en hulle sal uit die land van die vyand terugkom.

17. Ja, daar is verwagting vir jou nakomelinge, spreek die Here; en die kinders sal terugkom na hulle grondgebied.

18. Sekerlik het Ek Efraim hoor weeklaag: U het my getugtig en ek het my laat tugtig soos ’n ongeleerde kalf. Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die Here my God.

19. Want nadat ek tot inkeer gekom het, het ek berou gehad; en nadat ek tot insig gekom het, het ek op die heup geslaan; ek het beskaamd gestaan, ja, ook in die skande gekom, omdat ek die smaad van my jeug dra.

20. Is Efraim vir My ’n dierbare seun of ’n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm, spreek die Here.

21. Rig vir jou mylpale op, maak vir jou padwysers, let op die grootpad, die pad wat jy geloop het. Kom terug, o jonkvrou van Israel, kom terug na hierdie stede van jou!

22. Hoe lank sal jy bly aarsel, o afkerige dogter? Want die Here het iets nuuts op die aarde geskape: Die vrou sal die man beskerm.

23. So sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Weer sal hulle hierdie woord sê in die land Juda en in die stede daarvan, as Ek hulle lot verander: Mag die Here jou seën, o woning van geregtigheid, heilige berg!

24. En Juda en al sy stede sal daarin woon, almal saam; die landbouers en die wat met troppe vee rondtrek.

25. Want Ek verkwik die vermoeide siel en elke kwynende siel versadig Ek.

26. (Hierop het ek wakker geword en opgekyk, en my slaap was vir my soet.)

27. Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek die huis van Israel en die huis van Juda sal besaai met saad van mense en van diere.

28. En soos Ek oor hulle wakker was om uit te ruk en om te gooi en te verwoes en te vernietig en skade aan te doen, so sal Ek oor hulle wakker wees om te bou en te plant, spreek die Here.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 31