Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 3:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. HY sê: As ’n man sy vrou verstoot, en sy gaan van hom af weg en word ’n ander man s’n, kan hy dan nog na haar teruggaan? Sal daardie land nie skandelik ontheilig word nie? En jy het met baie minnaars gehoereer en wil na My terugkom, spreek die Here!

2. Slaan jou oë op na die kaal heuwels en kyk! Waar is jy nie onteer nie? Aan die paaie het jy vir hulle klaar gesit soos ’n Arabier in die woestyn, en jy het die land ontheilig deur jou hoererye en deur jou boosheid.

3. En die reënbuie is ingehou, en daar was geen laat reëns nie. Maar jy het ’n hoerevoorhoof gehad, jy het geweier om jou te skaam.

4. Het jy My nie nou eers aangeroep nie: My Vader, die vertroude Vriend van my jeug is U!

5. Sal Hy vir ewig die toorn behou, of dit vir altyd bewaar? Kyk, dit het jy gesê, maar jy het slegte dinge gedoen tot die uiterste toe.

6. EN die Here het vir my gesê in die dae van koning Josía: Het jy gesien wat die afkerige, Israel, gedoen het? Sy het op elke hoë berg en tot onder elke groen boom gegaan en daar gehoereer.

7. En Ek het gesê, nadat sy dit alles gedoen het: Keer na My terug! Maar sy het nie teruggekeer nie. En dit het die ontroue, haar suster Juda, gesien.

8. En Ek het gesien toe Ek uit oorsaak van die owerspel van die afkerige, Israel, haar verstoot en haar haar skeibrief gegee het, dat die ontroue, haar suster Juda, nie bevrees was nie, maar gegaan en ook self gehoereer het.

9. En vanweë haar ligsinnige hoerery het sy die land ontheilig, ja, sy het owerspel bedrywe met klip en hout.

10. Maar ook ondanks dit alles het die ontroue, haar suster Juda, haar nie met haar hele hart tot My bekeer nie, maar valslik, spreek die Here.

11. Toe het die Here vir my gesê: Die afkerige, Israel, het haar siel geregverdig meer as die ontroue, Juda.

12. Gaan en roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê: Keer terug, o afkerige, Israel, spreek die Here. Ek sal julle nie donker aankyk nie, want Ek is goedertieren, spreek die Here; Ek sal die toorn nie vir ewig behou nie.

13. Alleenlik, ken jou ongeregtigheid, dat jy teen die Here jou God oortree het en jou weë gerig het na die vreemdes, onder elke groen boom; maar na my stem het julle nie geluister nie, spreek die Here.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 3