Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 25:28-38 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

28. En as hulle weier om die beker uit jou hand te neem om te drink, moet jy vir hulle sê: So spreek die Here van die leërskare: Drink sál julle!

29. Want kyk, in die stad waaroor my Naam uitgeroep is, begin Ek met onheile — en sal júlle heeltemal ongestraf bly? Julle sal nie ongestraf bly nie, want Ek roep die swaard op teen al die inwoners van die aarde, spreek die Here van die leërskare.

30. Jy moet dan al hierdie woorde vir hulle profeteer en aan hulle sê: Die Here sal brul uit die hoogte en sy stem verhef uit sy heilige woning! Geweldig sal Hy brul oor sy woonplek; soos druiwetrappers sal Hy ’n vreugdegeroep aanhef teen al die inwoners van die aarde.

31. Oorlogsrumoer het gekom tot by die einde van die aarde, want die Here het ’n twis met die nasies, Hy hou gerig oor alle vlees. Die goddelose — aan die swaard het Hy hulle oorgegee, spreek die Here.

32. So sê die Here van die leërskare: Kyk, onheil gaan uit van volk tot volk, en ’n groot storm word opgewek uit die agterhoeke van die aarde.

33. En die wat deur die Here verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees.

34. Huil, o herders, en skreeu, en wentel julle in die as, julle maghebbers van die kudde; want vol is julle dae om geslag te word, en Ek sal julle verbrysel, en julle sal val soos ’n kosbare voorwerp.

35. Dan sal daar geen toevlug wees vir die herders en geen ontkoming vir die maghebbers van die kudde nie.

36. Hoor! Geskreeu van die herders en gehuil van die maghebbers van die kudde, omdat die Here hulle kudde verwoes.

37. En die weivelde van vrede word verwoes weens die toorngloed van die Here.

38. Hy het soos ’n jong leeu sy lêplek verlaat; want hulle land het ’n woesteny geword weens die gewelddadige swaard, ja, weens sy toorngloed.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 25