Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 23:3-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. En Ek self sal die oorblyfsel van my skape versamel uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het; en Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld, en hulle sal vrugbaar wees en vermenigvuldig.

4. En Ek sal herders oor hulle verwek wat hulle sal oppas; en hulle sal nie meer bevrees of verskrik wees of vermis word nie, spreek die Here.

5. KYK, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid ’n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.

6. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.

7. Daarom kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat hulle nie meer sal sê: So waar as die Here leef wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie,

8. maar: So waar as die Here leef wat die geslag van die huis van Israel laat optrek en laat kom het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het. En hulle sal woon in hulle land.

9. WAT die profete betref — my hart is gebreek in my binneste, my hele gebeente sidder; ek is soos ’n dronk man en soos ’n man wat deur die wyn oorweldig is, vanweë die Here en sy heilige woorde.

10. Want die land is vol owerspelers; want die land treur weens die vloek, die weivelde van die woestyn verdor; ja, waar hulle na strewe, is sleg, en waar hulle hul krag in soek, onreg.

11. Want profeet sowel as priester is goddeloos; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die Here.

12. Daarom sal hulle weg vir hulle wees soos glyerige plekke in die donkerheid; hulle sal neergestoot word en daarin val. Want Ek sal onheil oor hulle bring in die jaar van hulle besoeking, spreek die Here.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 23