Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 16:13-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Daarom sal Ek julle wegslinger uit hierdie land na ’n land wat julle nie geken het, julle en julle vaders nie; en daar sal julle ander gode dien dag en nag, omdat Ek julle geen genade sal bewys nie.

14. Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat daar nie meer gesê sal word: So waar as die Here leef, wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie;

15. maar: So waar as die Here leef, wat die kinders van Israel laat optrek het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Hy hulle verdryf het. Ja, Ek sal hulle terugbring in hulle land wat Ek aan hulle vaders gegee het.

16. Kyk, Ek stuur baie vissers, spreek die Here, wat hulle sal vang, en daarna sal Ek baie jagters stuur wat hulle sal opjaag, van elke berg en van elke heuwel en uit die klipskeure.

17. Want my oë is op al hulle weë, dit is nie voor my aangesig bedek nie, en hulle ongeregtigheid is nie voor my oë verborge nie.

18. Daarom sal Ek eers hulle ongeregtigheid en hulle sonde dubbel vergelde, omdat hulle my land ontheilig het met die lyke van hulle verfoeisels en my erfenis gevul het met hulle gruwels.

19. o Here, my sterkte en my beskutting en my toevlug in die dag van benoudheid, tot U sal volke van die eindes van die aarde af kom en sê: Net leuens het ons vaders geërwe, nietige afgode, en daaronder was niks wat voordeel kon bring nie.

20. Sal ’n mens vir hom gode maak wat tog geen gode is nie?

21. Daarom, kyk, Ek laat hulle hierdie keer voel, voel my hand en my mag; en hulle sal weet dat my Naam Here is.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 16