Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 13:15-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. Luister en merk op; verhef julle nie, want die Here het gespreek!

16. Gee eer aan die Here julle God voordat Hy dit donker laat word en voordat julle voete stamp teen die berge in die skemering; terwyl julle wag op lig, maar Hy dit doodskaduwee maak, in donkerheid verander.

17. Maar as julle daar nie na luister nie, sal my siel in skuilplekke ween vanweë die hoogmoed; en my oog sal bitterlik huil en afloop in trane, omdat die kudde van die Here as gevangenes weggevoer is.

18. Sê aan die koning en aan die gebiedster: Gaan baie laag sit, want julle hoofsieraad, julle sierlike kroon, het geval.

19. Die stede van die Suidland is toegesluit, en niemand maak oop nie; Juda is in ballingskap weggevoer gans en al, weggevoer volkome!

20. Hef jou oë op, en aanskou die wat uit die noorde kom. Waar is die kudde wat aan jou gegee is, jou pragtige trop kleinvee?

21. Wat sal jy sê wanneer Hy as hoof oor jou aanstel diegene wat jy self geleer het om jou vertroude vriende te wees? Sal weë jou nie aangryp soos van ’n barende vrou nie?

22. As jy dan in jou hart sê: Waarom het hierdie dinge my oorgekom? Weens die grootheid van jou ongeregtigheid is jou slippe opgetel, het jou hakskene gely onder geweld.

23. Kan ’n Kusiet sy vel verander of ’n luiperd sy vlekke? Dan sal julle ook in staat wees om goed te doen, julle wat gewend is om kwaad te doen.

24. Daarom sal Ek hulle verstrooi soos ’n stoppel wat verbyvlieg voor die wind van die woestyn.

25. Dit is jou lot, die deel wat Ek jou toegemeet het, spreek die Here, omdat jy My vergeet en op leuens vertrou het.

26. So het Ek dan ook jou slippe opgetel oor jou aangesig, sodat jou skande gesien word.

27. Jou owerspel en jou gerunnik, jou skandelike hoerery — op die heuwels in die veld het Ek jou verfoeisels gesien. Wee jou, Jerusalem! Hoe lank sal dit nog duur voordat jy rein word?

Lees volledige hoofstuk Jeremia 13