Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 10:9-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Silwer wat plat geslaan is, word uit Tarsis gebring en goud uit Ufas, die werk van die ambagsman en van die hande van die goudsmid; pers en purperrooi is hulle klere; ’n werk van kunstenaars is hulle almal.

10. Maar die Here is waarlik God, Hy is die lewende God en ’n ewige Koning; vir sy toorn beef die aarde, en die nasies kan sy grimmigheid nie verdra nie —

11. so moet julle vir hulle sê: Die gode wat die hemel en die aarde nie gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en onder hierdie hemel uit —

12. Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, wat die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand.

13. As Hy sy stem laat hoor, is daar ’n geruis van waters in die hemel; en Hy laat dampe opgaan van die einde van die aarde; Hy maak bliksems vir die reën en laat wind uitgaan uit sy voorraadskure.

14. Elke mens word dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur die gesnede beeld; want sy gegote beeld is ’n leuen, en daar is geen gees in hulle nie.

15. Nietige afgode is hulle, werk vir spotterny; in die tyd van hulle besoeking gaan hulle tot niet.

16. Jakob se deel is nie soos hulle nie; want Hy is die Formeerder van alles, en Israel is die stam van sy erfenis; Here van die leërskare is sy Naam.

17. TEL jou pak goed van die grond af op, jy wat in die beleëring vertoef.

18. Want so sê die Here: Kyk, Ek slinger die inwoners van die land hierdie keer weg, en Ek doen hulle benoudheid aan, dat hulle kan vind.

19. Wee my vanweë my verbreking! Smartlik is my wond! Ja, ék het gesê: Waarlik, dit is ’n lyding, en ek sal dit moet dra.

20. My tent is verwoes, en al my lyne is afgeruk; my kinders het van my af weggegaan, en hulle is daar nie; daar is niemand meer wat my tent uitspan en my tentdoeke opsit nie.

21. Want die herders het dom geword en die Here nie gesoek nie; daarom was hulle nie voorspoedig nie, en hulle hele kudde is verstrooi.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 10