Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 1:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DIE woorde van Jeremia, die seun van Hilkía, uit die priesters wat in Ánatot, in die land Benjamin was,

2. tot wie die woord van die Here gekom het in die dae van Josía, die seun van Amon, die koning van Juda, in die dertiende jaar van sy regering,

3. en gekom het in die dae van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda, tot die einde van die elfde jaar van Sedekía, die seun van Josía, die koning van Juda, totdat Jerusalem ontvolk is in die vyfde maand.

4. Die woord van die Here het dan tot my gekom en gesê:

5. Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ’n profeet vir die nasies gemaak.

6. Toe het ek gesê: Ag, Here Here, voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk.

7. Maar die Here het vir my gesê: Moenie sê: Ek is jonk nie; want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek.

8. Wees vir hulle nie bevrees nie, want Ek is met jou om jou uit te red, spreek die Here.

9. Toe het die Here sy hand uitgestrek en my mond aangeroer; en die Here het vir my gesê: Hiermee lê Ek my woorde in jou mond.

10. Kyk, Ek stel jou vandag aan oor die nasies en oor die koninkryke om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes, om te bou en te plant.

11. Verder het die woord van die Here tot my gekom en gesê: Wat sien jy, Jeremia? En ek antwoord: Ek sien ’n amandeltak.

12. Toe sê die Here vir my: Jy het goed gesien, want Ek is wakker oor my woord om dit te volbring.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 1