Ou Testament

Nuwe Testament

Hoséa 2:2-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Anders sal Ek haar naak uittrek en haar neersit soos op die dag van haar geboorte en haar maak soos ’n woestyn, ja, haar stel soos ’n dor land en haar van dors laat sterwe.

3. En Ek sal My oor haar kinders nie ontferm nie, want hulle is kinders uit hoerery gebore.

4. Want hulle moeder het in ontug gelewe, sy wat met hulle swanger was, het skandelike dinge gedoen; want sy het gesê: Ek wil my minnaars agternaloop wat my brood en my water, my wol en my vlas, my olie en my drank gee.

5. Daarom, kyk, Ek sal jou weg met dorings toemaak en om haar ’n muur bou, sodat sy haar paaie nie sal vind nie.

6. En sy sal haar minnaars agternaloop, maar hulle nie inhaal nie; en sy sal hulle soek, maar nie vind nie. Dan sal sy sê: Ek wil heengaan en terugkeer na my vorige man, want toe het ek dit beter gehad as nou.

7. Ja, sy het nie erken dat Ek aan haar die koring en die mos en die olie gegee het nie, ook silwer vir haar vermenigvuldig het en goud, wat hulle vir Baäl gebruik het.

8. Daarom sal Ek my koring terugneem in die oestyd en my mos op die bepaalde tyd, en wegneem my wol en my vlas wat dien om haar naaktheid te bedek.

9. Ek sal dan nou haar skaamte ontbloot voor die oë van haar minnaars, en niemand sal haar uit my hand red nie.

10. En Ek maak ’n einde aan al haar vreugde, haar feeste, haar nuwemane en haar sabbatte, ja, aan al haar feestye.

11. En Ek sal haar wingerdstok en haar vyeboom verwoes waarvan sy gesê het: Hierdie dinge is my hoereloon wat my minnaars my gegee het; en Ek sal dit tot ’n bos maak, en die wilde diere van die veld sal dit opeet.

12. So besoek Ek dan aan haar die dae van die Baäls toe sy vir hulle offerrook laat opgaan het en haar met haar neusring en haar halssierade versier en haar minnaars agternageloop het; maar My het sy vergeet, spreek die Here.

13. Daarom, kyk, Ek sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart spreek.

Lees volledige hoofstuk Hoséa 2