Ou Testament

Nuwe Testament

Hooglied 8:4-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Ek besweer julle, dogters van Jerusalem: Waarom wil julle wakker maak en waarom wil julle opwek die liefde voordat dit die liefde behaag?

5. Wie is dit wat daar opkom uit die woestyn, wat leun op haar beminde? Onder die appelboom het ek u opgewek. Daar was u moeder in barensweë oor u, daar was sy in barensweë wat u voortgebring het.

6. Dra my soos ’n seëlring op u hart, soos ’n seëlring op u arm; want liefde is sterk soos die dood, die liefdes-ywer is hard soos die doderyk, sy gloed is ’n gloed van vuur, ’n vlam van die Here.

7. Groot waters kan die liefde nie uitblus en riviere dit nie oorstroom nie; al gee ’n man ook al die goed van sy huis vir die liefde, hulle sou hom diep verag.

8. Ons het ’n klein sustertjie wat nog nie borste het nie; wat moet ons met ons suster maak dié dag as sy gevra word?

9. As sy ’n muur is, sal ons ’n silwerrand daarop bou, en as sy ’n deur is, sal ons dit met ’n sederplank toeslaan.

10. Ek is ’n muur, en my borste soos torings: toe het ek in sy oë geword soos een wat vrede vind.

11. Salomo het ’n wingerd in Baäl-Hamon gehad; hy het die wingerd aan die oppassers oorgegee; elkeen moes vir sy vrugte duisend sikkels silwer inbring.

12. My wingerd, myne, is hier voor my, die duisend sikkels is vir u, Salomo, en tweehonderd vir die wat sy vrugte bewaak.

13. U wat in die tuine woon — vriende luister na u stem; laat my dit hoor.

14. Vlug, my beminde, en maak soos die gemsbok of die jong takbok op die balsemberge.

Lees volledige hoofstuk Hooglied 8