Ou Testament

Nuwe Testament

Haggai 2:14-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Toe antwoord Haggai en sê: Só is in my oë hierdie volk en só hierdie nasie, spreek die Here, en só is al die werk van hulle hande en wat hulle dáár offer — onrein is dit.

15. Merk dan nou tog op, van hierdie dag af terug! Voordat hulle steen op steen gelê het in die tempel van die Here,

16. in dié tyd het iemand gekom by ’n koringmied van twintig maat, en daar was maar tien; hy het gekom by die parskuip om vyftig emmers te skep, en daar was maar twintig.

17. Ek het julle swaar getref met brandkoring en heuningdou en hael — al die werk van julle hande — nogtans het niemand van julle hom tot My gewend nie, spreek die Here.

18. Merk tog op, van hierdie dag af terug, van die vier-en-twintigste dag van die negende maand, naamlik van die dag af toe hulle die fondament van die tempel van die Here gelê het; merk op:

19. Is daar nog saad in die skuur? Ja, selfs die wingerdstok en die vyeboom en die granaatboom en die olyfboom het niks opgelewer nie. Van hierdie dag af sal Ek seën.

20. Vir die tweede maal het die woord van die Here tot Haggai gekom op die vier-en-twintigste van die maand en gesê:

21. Spreek met Serubbábel, die goewerneur van Juda, en sê: Ek sal die hemel en die aarde laat bewe.

22. En Ek sal die koningstrone omverwerp en die mag van die heidense koninkryke verdelg; en Ek sal die strydwaens en die wat daarop ry, omverwerp, en die perde en hulle ruiters sal val, die een deur die swaard van die ander.

23. In dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek jou neem, Serubbábel, seun van Seáltiël, my kneg, spreek die Here, en jou maak tot ’n seëlring, want jou het Ek verkies, spreek die Here van die leërskare.

Lees volledige hoofstuk Haggai 2