Ou Testament

Nuwe Testament

Haggai 2:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. OP die een-en-twintigste dag van die sewende maand het die woord van die Here deur die diens van die profeet Haggai gekom en gesê:

2. Spreek tog met Serubbábel, die seun van Seáltiël, die goewerneur van Juda, en met Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en met die oorblyfsel van die volk en sê:

3. Wie is onder julle nog oor wat hierdie huis in sy vroeëre heerlikheid gesien het? En hoedanig sien julle dit nou? Lyk dit nie net soos niks in julle oë nie?

4. Nou dan, skep moed, Serubbábel, spreek die Here, en skep moed, Josua, hoëpriester, seun van Jósadak, en skep moed, julle almal, volk van die land, spreek die Here, en werk! Want Ek is met julle, spreek die Here van die leërskare,

5. met betrekking tot die verbond wat Ek met julle gesluit het by julle uittog uit Egipteland, en my Gees sal in julle midde bestendig bly; wees nie bevrees nie!

6. Want so sê die Here van die leërskare: ’n Rukkie nog, ’n kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe.

7. Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê die Here van die leërskare.

8. Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die Here van die leërskare.

9. Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre, sê die Here van die leërskare; en op hierdie plek sal Ek vrede gee, spreek die Here van die leërskare.

10. Op die vier-en-twintigste van die negende maand in die tweede jaar van Daríus, het die woord van die Here gekom deur die diens van die profeet Haggai en gesê:

11. So sê die Here van die leërskare: Vra tog aan die priesters inligting uit die wet en sê:

Lees volledige hoofstuk Haggai 2