Ou Testament

Nuwe Testament

Hábakuk 3:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. ’n GEBED van Hábakuk, die profeet, op die wysie van Sjigjonōt.

2. Here, ek het die tyding aangaande U verneem, ek het gevrees! Here, roep u werk in die lewe in die midde van die jare; in die midde van die jare laat dit bekend word. In toorn, dink aan ontferming.

3. God kom van Teman en die Heilige van die berg Paran. Sela. Sy majesteit bedek die hemel, en die aarde is vol van sy lof.

4. En glans soos sonlig is daar, ligstrale aan sy sy; en dáár is die omhulsel van sy krag.

5. Voor Hom uit loop die pes, en ’n koorsgloed trek uit agter Hom aan.

6. Hy tree op en laat die aarde wankel, Hy kyk en laat nasies opskrik; verpletterd lê die ewige berge, en neergesink die ou, ou heuwels — paaie van die ou tyd vir Hom.

7. Ek sien die tente van Kusan met onheil oordek, en die tentdoeke van die land Mídian bewe.

8. Is dit teen riviere, o Here, teen die riviere, dat u toorn ontvlam het? Of geld u grimmigheid die see dat U ry met u perde, u oorwinningswaens?

9. Heeltemal ontbloot is u boog; besweer is die pyle deur die woord. Sela. Tot riviere splyt U die aarde.

10. Die berge sien U en bewe van angs, ’n wolkbreuk storm verby, die wêreldvloed verhef sy stem, steek sy hande omhoog.

11. Die son, die maan bly in hulle woonplek by die lig van u pyle wat verbyskiet, by die glans van flikkerende spies.

12. In grimmigheid betree U die aarde, in toorn dors U die nasies.

13. U trek uit tot redding van u volk, tot redding van u Gesalfde. U verbrysel die kop van die huis van die goddelose en ontbloot die fondament tot by die nek. Sela.

14. U deurboor met sy eie pyle die hoof van sy leiers wat storm om my te verstrooi; wie se gejuig is asof hulle die ellendige in die skuilhoek wil verslind.

15. U betree die see met u perde, ’n hoop magtige waters.

Lees volledige hoofstuk Hábakuk 3