Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 48:8-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Toe Israel die seuns van Josef sien, sê hy: Wie is dit?

9. En Josef antwoord sy vader: Dit is my seuns wat God my hier gegee het. En hy sê: Bring hulle tog by my, dat ek hulle kan seën.

10. Maar Israel se oë was swaar van ouderdom, hy kon nie sien nie. En toe hy hulle by hom bring, het hy hulle gesoen en hulle omhels.

11. En Israel sê vir Josef: Ek het geen gedagte gehad om jou aangesig te sien nie, en kyk, God het my ook jou nageslag laat sien.

12. Daarop laat Josef hulle van sy knieë af weggaan, en hy buig hom met sy aangesig na die aarde toe.

13. En Josef neem hulle twee, Efraim met sy regterhand, links van Israel, en Manasse met sy linkerhand, regs van Israel en hy bring hulle by hom.

14. Toe steek Israel sy regterhand uit en lê dit op die hoof van Efraim, hoewel hy die jongste was, en sy linkerhand op die hoof van Manasse: hy het sy hande oorkruis gehou, want Manasse was die eersgeborene.

15. En hy het Josef geseën en gesê: Die God voor wie se aangesig my vaders Abraham en Isak gewandel het, die God wat my as Herder my lewe lank gelei het tot vandag toe,

16. die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het — mag Hy die seuns seën, en mag deur hulle my naam genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte.

17. Toe Josef sien dat sy vader sy regterhand op die hoof van Efraim gelê het, was dit verkeerd in sy oë; en hy het die hand van sy vader gegryp om dit van die hoof van Efraim op die hoof van Manasse oor te bring.

18. En Josef sê aan sy vader: Nie so nie, my vader; want hierdie een is die eersgeborene: lê u regterhand op sy hoof.

19. Maar sy vader weier en sê: Ek weet, my seun, ek weet. Hy sal ook ’n volk word, en hy sal ook groot word; nogtans sal sy jongste broer groter wees as hy, en sý nageslag sal ’n menigte van nasies word.

20. So het hy hulle dan dié dag geseën en gesê: Met jou sal Israel ’n seën toewens, met die woorde: Mag God jou maak soos Efraim en soos Manasse! So het hy dan Efraim voor Manasse gestel.

Lees volledige hoofstuk Génesis 48