Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 48:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. NÁ hierdie dinge het hulle aan Josef meegedeel: Kyk, u vader is siek. Toe neem hy sy twee seuns, Manasse en Efraim, met hom saam.

2. En hulle het aan Jakob berig gebring en gesê: Kyk, u seun Josef kom na u toe. Daarop het Jakob sy krag versamel en op die bed gaan sit.

3. En Jakob het vir Josef gesê: God, die Almagtige, het aan my verskyn by Lus, in die land Kanaän, en my geseën

4. en vir my gesê: Kyk, Ek sal jou vrugbaar maak en jou vermeerder en jou tot ’n menigte van volke maak, en Ek sal aan jou nageslag ná jou hierdie land as ewige besitting gee.

5. Nou dan, jou twee seuns wat vir jou in Egipteland gebore is voordat ek in Egipte na jou gekom het, is myne. Efraim en Manasse sal myne wees net soos Ruben en Símeon.

6. Maar jou nakomelinge wat jy ná hulle verwek het, sal joue wees. Hulle sal na die naam van hulle broers genoem word in dié se erfdeel.

7. En toe ek van Paddan gekom het, het Ragel by my gesterwe in die land Kanaän, op die reis toe daar nog ’n kort ent pad was om by Efrat te kom; en ek het haar daar begrawe langs die pad na Efrat, dit is Betlehem.

8. Toe Israel die seuns van Josef sien, sê hy: Wie is dit?

9. En Josef antwoord sy vader: Dit is my seuns wat God my hier gegee het. En hy sê: Bring hulle tog by my, dat ek hulle kan seën.

10. Maar Israel se oë was swaar van ouderdom, hy kon nie sien nie. En toe hy hulle by hom bring, het hy hulle gesoen en hulle omhels.

11. En Israel sê vir Josef: Ek het geen gedagte gehad om jou aangesig te sien nie, en kyk, God het my ook jou nageslag laat sien.

Lees volledige hoofstuk Génesis 48