Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 44:1-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE gee hy bevel aan die opsigter oor sy huis en sê: Maak die sakke van die manne vol met lewensmiddele soveel as hulle kan vervoer, en sit elkeen se geld bo in sy sak;

2. en my beker, die silwerbeker, moet jy bo in die jongste se sak sit saam met die geld vir sy koring. En hy het gehandel volgens die woord wat Josef gespreek het.

3. Toe dit die môre lig word, het hulle die manne laat trek, hulle met hul esels.

4. Hulle het uit die stad uitgetrek, hulle was nog nie ver nie toe Josef aan die opsigter oor sy huis sê: Maak jou klaar en jaag die manne agterna; en as jy hulle inhaal, vra hulle dan: Waarom het julle kwaad vir goed vergelde?

5. Is dit nie die ding waaruit my heer drink en waarmee hy altyd waarneem nie? Julle het verkeerd gehandel met wat julle gedoen het.

6. En hy het hulle ingehaal en hierdie woorde aan hulle meegedeel.

7. Toe sê hulle vir hom: Waarom spreek my heer sulke woorde? Dit is ver van u dienaars om so iets te doen.

8. Kyk, geld wat ons bo in ons sakke gevind het, het ons uit die land Kanaän aan u teruggebring — hoe sou ons dan silwer of goud uit die huis van u heer kan steel?

9. Dié een van u dienaars by wie dit gevind word, moet sterwe; en ons sal ook my heer se slawe wees.

10. Toe sê hy: Nou goed, laat dit wees soos julle gesê het. Dié een by wie dit gevind word, is my slaaf. Maar júlle sal vry wees.

11. Daarop het hulle gou elkeen sy sak op die grond neergesit en elkeen sy sak oopgemaak.

12. En hy het gesoek; hy het begin by die oudste en opgehou by die jongste; en die beker is in Benjamin se sak gevind.

13. Toe skeur hulle hul klere, en elkeen laai sy esel, en hulle gaan na die stad terug.

14. En Juda het saam met sy broers in die huis van Josef gekom, terwyl hy nog daar was, en hulle het voor hom neergeval op die grond.

15. Daarop sê Josef vir hulle: Wat is dit nou wat julle gedoen het? Weet julle nie dat ’n man soos ek dit ongetwyfeld moet waarneem nie?

16. En Juda antwoord: Wat kan ons aan my heer sê? Wat kan ons spreek? En waarmee kan ons ons regverdig? God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind. Kyk, ons is my heer se slawe, ons sowel as hy by wie die beker gevind is.

17. Maar hy sê: Dit is ver van my om dit te doen; die man by wie die beker gevind is, dié sal my slaaf wees. Maar trek júlle in vrede op na julle vader.

18. Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, my heer, mag u dienaar tog ’n woord spreek voor die ore van my heer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao.

Lees volledige hoofstuk Génesis 44