Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 43:26-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

26. Toe Josef dan in die huis kom, het hulle vir hom die geskenk binnegebring wat by hulle was, en hulle voor hom neergebuig na die aarde toe.

27. En hy het hulle na hul welstand gevra en gesê: Gaan dit goed met julle ou vader van wie julle gespreek het? Leef hy nog?

28. En hulle antwoord: Dit gaan goed met u dienaar, ons vader; hy lewe nog. En hulle het hul eerbiedig neergebuig.

29. Toe slaan hy sy oë op en sien sy broer Benjamin, die seun van sy moeder, en sê: Is dit julle jongste broer van wie julle met my gespreek het? Daarop sê hy: Mag God jou genadig wees, my seun!

30. En Josef het gou gemaak, want sy binneste was ontroerd oor sy broer: hy het geleentheid gesoek om te ween en in die kamer gegaan en daar geween.

31. Daarna het hy sy gesig gewas en uitgekom en hom bedwing en gesê: Bring die ete op!

32. Toe bring hulle dit vir hom besonders op en vir hulle besonders en vir die Egiptenaars wat by hom eet, besonders; want die Egiptenaars mag nie saam met die Hebreërs eet nie, omdat dit vir die Egiptenaars ’n gruwel is.

33. En hulle het gaan sit volgens sy bepaling, die eersgeborene na sy eersgeboorte en die jongste na sy jonkheid. Toe kyk die manne mekaar verbaas aan.

34. Hierop het hy aan hulle porsies uitgedeel van die ete wat voor hom staan; maar die porsie van Benjamin was vyf maal groter as die porsies van hulle almal. En hulle het gedrink en saam met hom vrolik geword.

Lees volledige hoofstuk Génesis 43