Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 42:9-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Toe dink Josef aan die drome wat hy aangaande hulle gedroom het; en hy sê vir hulle: Julle is spioene, julle het gekom om te kyk waar die land oop is.

10. Maar hulle het hom geantwoord: Nee, my heer, maar u dienaars het gekom om voedsel te koop.

11. Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie.

12. Toe sê hy vir hulle: Nee, maar julle het gekom om te kyk waar die land oop is.

13. En hulle antwoord: U dienaars is twaalf in getal, ons is broers, seuns van een man in die land Kanaän; en kyk, die jongste is nou by ons vader, maar die eenis daar nie meer nie.

14. Toe sê Josef vir hulle: Dit is wat ek julle gesê het: Julle is spioene!

15. Hieraan sal julle getoets word: so waar as Farao leef, julle sal hiervandaan nie trek tensy dat julle jongste broer hierheen kom nie.

16. Stuur een van julle, dat hy julle broer gaan haal, maar júlle moet in die gevangenis bly. So sal dan julle woorde getoets word, of die waarheid by julle is of nie. So waar as Farao leef, julle is spioene!

17. Daarop het hy hulle saam drie dae lank in bewaring laat hou.

18. En op die derde dag sê Josef vir hulle: Doen dit, dan sal julle lewe; ek vrees God!

19. As julle eerlike mense is, laat een van julle broers gevange bly in die huis waar julle in bewaring is; maar gaan júlle, bring die koring vir die honger van julle huisgesinne weg,

20. en bring julle jongste broer na my toe — dan sal julle woorde waar gemaak word, en julle sal nie sterwe nie. En hulle het so gedoen.

21. Toe sê hulle vir mekaar: Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie — daarom kom hierdie benoudheid oor ons.

22. Daarop antwoord Ruben hulle: Het ek nie vir julle gesê nie: Besondig julle nie aan die seun nie? Maar julle het nie geluister nie. Kyk, so word dan ook sy bloed geëis.

23. En hulle het nie geweet dat Josef dit verstaan nie, want daar was ’n tolk tussen hulle.

24. Toe draai hy hom van hulle af weg en ween. Daarna het hy na hulle teruggegaan en met hulle gespreek; en hy het Símeon onder hulle uitgeneem en hom voor hulle oë gebind.

25. Daarop gee Josef bevel om hulle sakke vol koring te maak en elkeen se geld weer in sy sak te sit en om aan hulle padkos vir die reis saam te gee. En so is aan hulle gedoen.

26. En hulle het die koring op hulle esels gelaai en daar weggetrek.

27. En toe die een sy sak oopmaak om sy esel in die herberg voer te gee, sien hy sy geld; en kyk, dit was somaar bo in sy sak!

28. En hy sê vir sy broers: My geld is teruggegee; hier lê dit dan ook in my sak! Toe het hulle hart hul begewe, en hulle draai verskrik na mekaar toe en sê: Wat het God ons nou aangedoen?

Lees volledige hoofstuk Génesis 42