Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 42:29-38 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

29. En hulle het by hul vader Jakob in die land Kanaän gekom en hom alles vertel wat hulle wedervaar het en gesê:

30. Die man, die heer van die land, het ons hard aangespreek en ons vir spioene van die land gehou.

31. Maar ons het aan hom gesê: Ons is eerlike mense, ons is geen spioene nie.

32. Ons is twaalf broers, seuns van ons vader; die een is daar nie meer nie, en die jongste is nou by ons vader in die land Kanaän.

33. Daarop het die man, die heer van die land, aan ons gesê: Hieraan sal ek weet dat julle eerlike mense is — laat een van julle broers by my bly; en neem vir die honger van julle huisgesinne en trek weg,

34. en bring julle jongste broer na my toe; dan sal ek weet dat julle geen spioene is nie. As julle eerlike mense is, sal ek julle broer aan julle teruggee, en julle mag in die land rondtrek.

35. En toe hulle hul sakke leegmaak, was elkeen se bondeltjie geld daar in sy sak! En toe hulle hul bondeltjies geld sien, hulle en hul vader, was hulle bevrees.

36. Daarop sê Jakob, hulle vader, vir hulle: Julle beroof my van kinders. Josef is weg! En Símeon is weg! En Benjamin wil julle wegneem! Alles is teen my!

37. Toe spreek Ruben sy vader aan en sê: U kan my twee seuns doodmaak as ek hom nie na u terugbring nie. Vertrou hom aan my toe, en ék sal hom na u terugbring.

38. Maar hy sê: My seun sal nie saam met julle aftrek nie, want sy broer is dood, en hy het alleen oorgebly; en as ’n ongeluk hom oorkom op die pad wat julle sal gaan, dan sal julle my grys hare met kommer in die doderyk laat afdaal.

Lees volledige hoofstuk Génesis 42