Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 42:18-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. En op die derde dag sê Josef vir hulle: Doen dit, dan sal julle lewe; ek vrees God!

19. As julle eerlike mense is, laat een van julle broers gevange bly in die huis waar julle in bewaring is; maar gaan júlle, bring die koring vir die honger van julle huisgesinne weg,

20. en bring julle jongste broer na my toe — dan sal julle woorde waar gemaak word, en julle sal nie sterwe nie. En hulle het so gedoen.

21. Toe sê hulle vir mekaar: Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie — daarom kom hierdie benoudheid oor ons.

22. Daarop antwoord Ruben hulle: Het ek nie vir julle gesê nie: Besondig julle nie aan die seun nie? Maar julle het nie geluister nie. Kyk, so word dan ook sy bloed geëis.

23. En hulle het nie geweet dat Josef dit verstaan nie, want daar was ’n tolk tussen hulle.

24. Toe draai hy hom van hulle af weg en ween. Daarna het hy na hulle teruggegaan en met hulle gespreek; en hy het Símeon onder hulle uitgeneem en hom voor hulle oë gebind.

25. Daarop gee Josef bevel om hulle sakke vol koring te maak en elkeen se geld weer in sy sak te sit en om aan hulle padkos vir die reis saam te gee. En so is aan hulle gedoen.

26. En hulle het die koring op hulle esels gelaai en daar weggetrek.

27. En toe die een sy sak oopmaak om sy esel in die herberg voer te gee, sien hy sy geld; en kyk, dit was somaar bo in sy sak!

28. En hy sê vir sy broers: My geld is teruggegee; hier lê dit dan ook in my sak! Toe het hulle hart hul begewe, en hulle draai verskrik na mekaar toe en sê: Wat het God ons nou aangedoen?

Lees volledige hoofstuk Génesis 42