Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 41:29-46 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

29. Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland;

30. maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word, en die hongersnood sal die land verteer.

31. En van die oorvloed sal in die land niks gemerk word weens dié hongersnood wat daarna sal wees nie; want dit sal baie swaar wees.

32. En wat dit betref dat die droom twee maal vir Farao herhaal is — dit is omdat die saak deur God vas besluit is en God dit gou sal doen.

33. Laat Farao dan nou uitkyk na ’n verstandige en wyse man en hom aanstel oor Egipteland.

34. Farao moet so maak en opsigters oor die land aanstel en in die sewe jare van oorvloed die vyfde deel hef van die opbrings van Egipteland.

35. En hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, versamel en onder leiding van Farao koring ophoop as voedsel in die stede en dit wegbêre.

36. So sal dan die voedsel ’n voorraad wees vir die land vir die sewe jare van hongersnood wat in Egipteland sal kom, sodat die land nie deur die hongersnood te gronde gaan nie.

37. En die woord was goed in die oë van Farao en van al sy dienaars.

38. Daarop het Farao aan sy dienaars gesê: Kan ons wel iemand vind soos hierdie man in wie die Gees van God is?

39. En Farao sê vir Josef: Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand verstandig en wys soos jy nie.

40. Jý moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik; alleen deur die troon sal ek groter wees as jy.

41. Verder het Farao vir Josef gesê: Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipteland.

42. Toe trek Farao sy seëlring van sy hand af en sit dit aan die hand van Josef; en hy het hom fyn linneklere laat aantrek en die goue ketting om sy hals gehang

43. en hom laat ry op sy tweede rytuig; en hulle het voor hom uitgeroep: Pas op! So het hy hom dan oor die hele Egipteland aangestel.

44. En Farao sê vir Josef: Ek is Farao, maar sonder jou mag niemand sy hand of voet in die hele Egipteland verroer nie.

45. En Farao het Josef genoem Sáfenat-Panéag en aan hom Ásenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, as vrou gegee. En Josef het uitgetrek oor Egipteland.

46. En Josef was dertig jaar oud toe hy voor Farao, die koning van Egipte, gestaan het; en Josef het van Farao af weggegaan en die hele Egipteland deurgetrek.

Lees volledige hoofstuk Génesis 41